NAVRAE : INFO@WINTERSTORM.CO.ZA

Wat is Kuilvoer?

Wat is kuilvoer?

Kuilvoer is ‘n anaerobiese (suurstof-vrye) fermentasie van ruvoere met genoeg vog (water) wat lei tot n lae pH (suurheidsgraad) om in kombinasie n gepreserveerde vorm van voer te bewerkstellig. Die doel is om voer wat seisoenaal produseer word, vir n lang tyd te kan stoor sonder enige vorm van agteruitgang of bederf.

Waar kom kuilvoer se reuk vandaan?

Kuilvoer se reuk kom van die vlugtige vetsure af, meestal asynsuur en propionsuur. Melksuur kom in die grootste hoeveelhede voor in kuilvoer maar is basies reukloos.

Hoe moet my Winterstorm Kuilvoer ruik?

Wanneer kuilvoer nie baie sterk ruik nie, is dit eintlik n goeie teken omdat melksuur dan oorheers en baie lae vlakke van die ander sure teenwoordig is. Asynsuur, wat in asyn voorkom en dus n bekende reuk is, kom andersins sterk na vore, en dit is net sleg as dit baie skerp en oorheersend is. Ander soet of vrugtige reuke is afkomstig van n kombinasie van vlugtige vetsure wat insluit propionsuur, maar ook van giste wat alkohol en ander afval produkte vorm. Enige slegte reuke, gewoonlik afkomstig van bottersuur, is ongewens en dui op n swak fermentasie en preservering.

Hoe lyk goed gekerfde kuilvoer?

Goed geprosesseerde kuilvoer se partikels is fyn gekerf, eweredig van aard en vry van lang stukke stingels of blare. Die partikel-kante is skerp afgesny wat dui op skerp lemme en goed-funksionerende toerusting.

Is daar iets fout as die vakuum van die sak gelos het?

Nee glad nie! Die vakuum wat effens ontspan oor tyd dui op n laaste bietjie koolstof-dioksied (CO2) wat uit fermentasie vorm. Hierdie gas dra by tot die sterk anaerobiese (suurstof-vrye) omgewing binne in die sakkie wat die raklewe verseker.

Kan die dier te veel van Winterstorm se kuilvoer eet?

Winterstorm se soet-voersorghum kuilvoer het geen potensiële negatiewe effekte weens hoë inname nie. Dit is eintlik ‘n baie veilige ruvoer vir ad-lib (onbeperkde) voeding omdat dit nie die hoë vlakke stysel bevat soos mieliekuilvoer nie.

Is daar enige bymiddels by Winterstorm Kuilvoer gevoeg?

Winterstorm kuilvoer is ‘n natuurlike produk wat uit heel-plante gemaak word, en deur middel van fermentasie preserveer word vir lang-termyn stoor en gebruik. Dit word egter twee keer behandel as deel van die totale kwaliteits-versekering en bestuurs-proses. Beide behandelings is natuurlik en organies van aard, en promofeer bloot die gewensde prosesse wat in kuilvoer natuurlik voorkom:

  • Die eerste behandeling is met natuurlike melksuur bakterië wat in die vorm van inokulante by die kuilvoer gevoeg word tydens inkuiling. Die doel hiervan is om primêre fermentasie te bemiddel en suksesvolle preservering te verseker.
  • Die tweede behandeling is tydens verpakking wanneer ‘n spesiale organiesesuur-verbinding op die kuilvoer gespuit word om enige oorblywende bederfs-organismes dood te maak en effektief die voer te steriliseer.

Beide hierdie behandelings word met oorleg gedoen en het n spesifieke funksie. Dit word ook bestuur as deel van die kuilvoer-audit wat Winterstorm Kuilvoer ondergaan om te verseker die totale proses verloop gewens, ten einde aan die boer die beste moontlike kwaliteit en veilige Winterstorm Kuilvoer te verskaf.

Is kuilvoer op sy eie ‘n volledige rantsoen?

Kuilvoer kan as volledige rantsoen aangewend word, maar dit hang af van die tipe dier en die produksie-status wat verlang word. So kan Winterstorm se soet-voersorghum kuilvoer bv as onderhoudsrantsoen vir veldbeeste of wild dien, selfs op swak veld, met geen of min aanvulling. Maar indien diere se kondisie moet verbeter word of as jong diere moet uitgroei, is die aanbeveling om ten minste ‘n gepasde lek vir die seisoen ook aan te bied. Vir die doeleindes van ‘n voerkaal of melkery is die beste om Winterstorm Kuilvoer as deel van ‘n totaal gemengde rantsoen (TGR) met die hulp van n gekwalifiseerde diere-voedingkundige te formuleer. In so geval dien die kuilvoer bloot as een van die ruvoer grondstof opsies in die TGR.

Hoekom is kuilvoer ‘n goeie grondstof alternatief in voermengsels?

Omdat kuilvoer tradisioneel slegs in losmaat (onverpak) beskikbaar was om aan te koop, is dit in baie gevalle uitgesluit as potensiële grondstof vir verskeie rantsoene op plase waar kuilvoer nie self produseer word nie. Losmaat kuilvoer se raklewe is baie kort, en as dit nie vinnig genoeg opgebruik word nie begin dit warm word en muf. 

Alles het egter verander met die markleier, Winterstorm Kuilvoer, se soet-voersorghum kuilvoer wat verpak is in vakuum verseëlde plastiek sakkies. Hierdie hoë gehalte kuilvoer kan nou daagliks vars uit die sakkies oopgemaak word en dus as grondstof gebruik word in rantsoene. Die belangrikste voordele is smaaklikheid, verhoogde verteerbaarheid, maksimale inname en laer verliese in vergelyking met verskeie ander ruvoer alternatiewe; maar bo alles: die langste raklewe en maklikste hantering van enige gestoorde ruvoer!

Hoekom is kuilvoer klam?

Kuilvoer word gesny en ingekuil terwyl ongeveer 2/3 van die plant nog uit water bestaan. Die ander 1/3 noem ons droë material (DM). Die DM bevat ALLE voedingstowwe en die 2/3’s wat die voer “nat” laat voel is suiwer water. Die water word benodig om mikrobe-lewe te onderhou sodat fermentasie kan plaasvind, om in sy beurt die preservering van kuilvoer te bewerkstellig.

Hoekom moet ek die oopgemaakte sak binne 2 – 3 dae gebruik?

Kuilvoer is ‘n anaerobiese produk, wat beteken dit word gemaak en gestoor sonder suurstof. In die afwesigheid van suurstof, en in kombinasie met n suur-omgewing (‘n lae pH / suurheidsgraad – afkomstig van die melksuur bakterië wat aktief is tydens primêre fermentasie), bly die kuilvoer gepreserveer. Wanneer dit egter oopgemaak word, en suurstof keer terug na die kuilvoer, keer die proses om en verloor die kuilvoer die preservering. ‘n Proses van agteruitgang en verhitting begin dan, wat gewoonlik 3 dae of langer neem om ten volle te realiseer. Daarom moet die kuilvoer sakkies wat oopgemaak word, so spoedig moontlik opgebruik word, en daar moet nooit onnodig sakkies vooruit oopgemaak word nie.

Hoe lank kan ek die kuilvoer sakke stoor?

Solank as wat Winterstorm Kuilvoer sakkies heel bly, met nie soveel as selfs klein gaatjies / geringe skade nie, is die kuilvoer in beginsel gereed om jare lank gestoor te kan word. Die kuilvoer sakkies moet egter goed bestuur word sodat geen aerobiese (suurstof) indringing plaasvind nie. En die beginsel van “oudste eerste” moet altyd toegepas word wanneer nuwe voorraad ontvang is.

DEEL HIERDIE ARTIKEL:

Facebook
Twitter
LinkedIn